Geskiedenis van Tuinroete Agri
Tuinroete Agri vier in 2012 as besigheid sy 80ste bestaansjaar en as maatskappy sy 15e verjaarsdag.
Tuinroete Agri het in 1997 tot stand gekom met die samevoeging van die Suid-Westelike Landboukoöperasie en Riversdal-Albertinia Koöperasie, toe respektiewelik bekend as SWLK Beleggings Beperk en RAK Agri Beperk. Beide koöperasies het in 1932 ontstaan toe Suid-Westelike Koöperatiewe Graan Maatskappy in Mosselbaai en Riversdal Koöperatiewe Landbou Maatskappy in Riversdal gestig is. “Die hoofdoel van beide koöperasies was om graan, hoofsaaklik koring, op die mees voordelige wyse namens die boere van die hand te sit”.
In 1983 en 1984 word die George Aartappelmoerkwekers Koöperasie en Herold (Koöperatief) Beperk by Suid-Westelike Landboukoöperasie ingelyf. Tuinroete Agri het dus ontstaan deur die samesmelting van 4 koöperasies. In 2008 word die Langkloof Boerekoöperasie, met hoofkantoor in Avontuur, by die groep gevoeg. Die laasgenoemde koöperasie se voorloper was die Uniondale Koring Koöperatiewe Vereniging wat alreeds in 1931 gestig is, terwyl die Langkloof Boerekoöperasie, in 1946 gestig is.
Die goeie ou dae!
- "Mnr Thys du Toit van Jongensfontein onthou die dae voor die silo’s op Riversdal in 1975 gebou is. Op daardie stadium moes boere hulle graan in sakke by die graanstoor gaan aflaai. Soms het daar tot 22 vragmotors (1km lank) in die ry gewag. 3 Ton lorries is gebruik wat 65 sakke koring op ‘n slag kon laai. Op Kleinberg het die lorries van die teerpad af gestaan en wag."
- "Martiens Wessels van die Koöperasie het dikwels sommer met die hand besluit die koring is nog nat en boere moes dan noodgedwonge die koring op seile uitgooi om droog te word. Later is ‘n “masjientjie” gebruik wat met ‘n blou vlam gewys het as die koring se voginhoud meer as die toegelate persentasie was. Die toetsproses het 45 minute geduur en almal in die ry moes maar gelate wag."
- "Mnr Faan van Wyk wat nou in Stilbaai woon, vertel hoe lekker die boere op dié dae gesels het. Hulle het ure onder die bome gesit en dikwels vleis gebraai en “geskinder”. Hy lag lekker as hy vertel hoe hy een oggend vroeg ‘n “afgekeurde nat vrag” by die kerkhof gaan los het en hoe dieselfde vrag die middag net voor 17:00 die toets geslaag het."
- "Mnr Louis Fivaz vertel dat sy broer Stoffel 2 lorries gehad het wat presies dieselfde geverf was (rooi met wit dakke). Die drywer, wat pas ‘n vrag afgelaai het, het met die ander drywer in die ry omgeruil, tot groot konsternasie van die Koöperasie personeel wat dan “5 minute tevore dieselfde man in dieselfde lorrie gehelp het!”
- "Mike Uys vertel van hoe hy as skoolkind in die rye voor die graanstoor snags op die wa onder leë blounaat sakke moes slaap om soggens 6 uur as hulle oopmaak die vrag vorentoe te kan beweeg, anders moes ‘n mens weer agter gaan inval. In sy begin dae as Gradeerder, het die stoor nog oopgebly tot 9 uur saans. Die 6 aflaaiputte was gelyk met die muurtjies gevul en oom Chris van Wyk moes van die agterkant af instoot met sy tippers om af te laai. Daar is dwarsdeur die nag ingetrek en oopmaaktyd, soggens 7 uur, was daar dikwels steeds 1 put wat steeds vol koring was."
Ja, dit was die goeie ou dae...